Haar naam was Naomi Kerker. Sy het gesterf met `n nege mm koёl in die kop.Wat mens laat wonder wat die gesegde beteken; jy sal sterwe soos jy lewe. Sommige sê sy was maar net op die verkeerde plek en tyd. 13hoo voor haar ma se huis, Industrial Ring Road Tiervlei op 16 Junie in 1976. Stellig maar net nuuskurig en uiteindelik dood.
Die dag het die land gestink van traangas, tyres en ou matrasse.
`n Boksie lion vuurhoutjies was die dag magtiger as `n vuurwapen. Oral was daar vure, in die strate, winkels, voertuie. Die ou mense het vir ons gese ons moet in die dreine wegsteek, want dis oorlog. `n opgehoopte woede het ontsnap in `n gebalde vuis en die black power slagkreut.
Oral was mense op straat besig om uiting te gee aan hul gevoelens. Daar was gehuil, daar was gelag, maar bowenal was daar defy. Die slim manne in die sielkunde noem dit mos karthasis. `n Vloedgolf van opgekropte emosies wat alles in sy pad platvee. Strydlustige betogers wat bakstene laat reёn soos confetti. Glasstukkies op die teerpad en die swart reuk van rubber en traangas in die lug.
Die uitgebrande wrakke van afleweringsvoertuie was `n makaber getuienis van weggesteekte pyn en eeue lange impotensie. Die gesigsuitdrukkings van mense het gelees soos `n roman. Die mammie met die verstarde uitkyk wat paniekbevange roep na haar kind. Die ou omie wat gelate oor sy heining die geharwar aankyk asof niks ho meer kan skok nie. Die hoerskoollaaities met hemde wat uithang en `n nat sakdoek om die mond, kwaad en bly tergelyk oor `n kans om sy boodskap oor te dra, al is dit ook met `n klip. Die oorpakgeklede fabriekswerker wat haas huis toe, bekommerd oor sy familie.
Daar was blydskap oor die mag van `n klip, en `n lang konvooie ligbruin landrovers wat soos n stoet in De le Rey straat opbeweeg. Die spoed alleen het jou koud gelaat of moet ek liewer se die afwesigheid van spoed. Teen minder as 20km per uur het die landrovers beweeg, stadig, statig maar meedoenloos. Hulle het onstuitbaar gelyk.
In die agtergrong en op die wind kon jy hoor die klapgeluide van traangas, rubberkoёls en dood spoeg het. Skote wat sporadies klap soos een groep betogers na `n ander uitmekaar gejaag, geskiet word. Ouers wat soos mal mense hul kinders aankeer huis toe soos onwillige skape na `n veilige kraal. Die wolf was voor die deur.
Kinders het geval. Sommige soos Naomi vir ewig, voor haar ma se huis inmekaargesak en Nebo laerskool was een leerder armer. Die skieter, `n paniekbevange wit rambo wat by Orbit Motors gewerk het en in `n donkerblou mercedes benz het met skreeuende bande af in Ring Road gejaag. Hy het sweerlik gedink dit was sy laaste dag toe `n groep betogers uit die singels die black power slagkreut laat dreun het en voor sy motor ingespring het.
Hy het `n geweldige u turn gemmak en terug gejaag tot voor sy fabriek en toe afgejaag op die griep betogers op die hoek van de le rey en sy vuurwapen spiegend uit die venster. Sy was dood toe sy die grond tref. `n Standerd een meisie met geen sonde behalwe haar kleur.
Moorddosier. Wat kan `n mens se. Hector Pietersen het geval en hy het `n simbool geraak, Naomi `n statistiek. Haar ouers was nie voor die waarheid en voorsiening kommisie nie. Watter waarheid was daar in elk geval. Die Here het gegee en die government het geneem. Geneem met `n size twaalf boot , n khakihemp en n onwrikbare geloof in die geregtigheid van die wit saak. Was `n moord dossier geopen? Died of unnatural causes op `n sertifikaat vir iemaand wat nie 088 agter aan sy id mag kon sien nie. Dit was die begin van die einde. Na daardie dag het geen witman Homself ooit weer untouchable geag nie. Maar Naomi is vergeet, Haar bydrae tot ons vryheid `n oorsig in die anale van die struggle.